20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die kuns van konfytkook soos ons oumas en die generasies voor hulle nog gedoen het, is so stadig maar seker besig om uit te sterf namate die wêreld besig is om ‘n “vol-outomatiese kitsplek” te word. Tog is daar steeds baie geesdriftige tuiskokers wat probeer om die kultuur van tuisgemaakte konfyt, ingelegte vrugte, jellies, blatjang en soortgelyke lekkernye vir die nageslag te bewaar – gaan loer maar gerus by enige tuismark of straatkafee in jou omgewing en jy sal sien dat mense aanhou om dié lekkernye te maak omdat daar na jare steeds ‘n aanvraag daarvoor is en omdat dit nou maar ‘n feit is dat g’n gekoopte konfyt by ‘n flessie tuisgemaakte konfyt kan kers vashou nie. Waldie Volschenk van ons redaksie het oor die afgelope paar jaar bekend geword as iemand met ‘n passie vir tuisgemaakte konfyt, jellies, blatjang of selfs ingemaakte vrugte. “Ek was onlangs baie gelukkig om ‘n egte makataan by iemand te kry – dan maak ‘n mens net twee dinge – die immergewilde makataanstukke en makataan-fynkonfyt – ‘n ewelekker konfyt wat minder bekend is en van die kern of binneste gedeelte van die makataan gemaak word. 

Metode:

Sny die wit stukke van jou makataankern in maklik-hanteerbare blokkies van ongeveer 12 tot 15 mm en verwyder al die pitte. Spoel goed af, weeg en gooi in jou konfytpot. Sny twee pynappels in stukkies van min of meer dieselfde grootte – onthou net die binneste “mooi” gedeeltes. 
Onthou om ook die pynappel te weeg sodat jy presies weet hoeveel kg vrugtestukke jy het en gooi by die makataanstukkies. Gooi dieselfde hoeveelheid suiker in die pot nadat jy dit presies afgeweeg het. Nou net een koppie kookwater en plaas op stoof om stadig te smelt en te kook. 
Onthou – baie stadig in die begin en taamlik vinnig die laaste 30 tot 50 minute (afhangend van hoeveel kg konfyt jy kook natuurlik) voor jy dit afhaal. 
Onthou om die sap van een suurlemoen (pitte verwyder!) en ‘n stukkie gekneusde gemmer by die vrugte te gooi en kook tot mooi helder deurskynend en tot jy seker is dat jou “stroop” genoeg gekook het om te jel. 
Skep in flessies wat jy in die oond gesteriliseer het (net die flessies – nie dekseltjies nie) en verseël terwyl dit nog warm is. Laat ‘n dag of twee staan voor gebruik – hmmmm, al te lekker saam met die beskeie toebroodjie met of sonder kaas, Salty Crax, botterbroodjies, of as jy ‘n ware soettand is, om skelm met ‘n teelepeltjie uit die flessie te eet as ma bo in die kamer besig is…