20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In Rustenburg Herald se “kos/kookrubriek” het ons al met baie vorms van eet, proe of smul geëksperimenteer. In die afgelope winterseisoen was konfyt en jellies kook meer as een keer aan die beurt. In hierdie uitgawe – dalk vir die laaste keer hierdie winter – maak ons ingelegte kwepers en ons was verstom omdat daar soveel mense is wat blykbaar nie dié heerlike lekkerny ken nie, hoewel die sogenaamde “kweperlat” glad nie onbekend by die meeste mense of kinders is nie. Mense wat al lank in die gebottelde vrugtebedryf is, sal jou vinnig sê dat kwepers ‘n heerlike lekkerny en dat dit veral heerlik is wanneer dit ingelê word of wanneer jy dit gebruik vir jellie kook. 

Metode:

Skil die hoeveelheid kwepers wat jy wil inlê. Dit is nogal ‘n joppie hoor – kweper se skil is nie jou maat nie en jy moet maar seker maak dat jou mes lekker skerp is. Sny die kweper in die helfte (dit is ook ‘n taamlik joppie weens die klipharde pitgedeelte van die vrug). Jy moet maar so ‘n “holte” uit die kweper sny sodat jou vrug amper soos gesnyde pere lyk. Sny dan jou kweperhalwes in skywe min of meer soos lemoen- of naartjieskywe.
Onthou om dit dadelik in koue water te sit – geskilde kwepers verkleur maklik tot ‘n onaantreklike bruin en as dit eers verkleur het, is dit neusie verby – nie veel verkeerd met die smaak nie maar dit sal natuurlik glad nie mooi lyk in jou bottels nie. Om vrugte in te lê is oor die algemeen veel makliker as om konfyt of jellie te kook.
Al wat bietjie van ‘n uitdaging is, is om te skat hoeveel stroop/sap jy nodig het. Onthou – al jou vrugte in al jou bottels moet deur die stroop in die bottels bedek wees anders kan jy dalk probleme optel.
Met die inlê van vrugte hoef jy nie te sukkel met die weeg van vrugte, water en/of suiker nie. Die formule vir “stroop” is eenvoudig – twee dele water vir elke deel suiker – met ander woorde – twee keer soveel water as jou suiker – dit is verder maklik om die som te maak. Maak liewers te veel as te min – dit kan nogal ‘n krisis wees as jy nie genoeg sap/stroop vir al jou vrugte het nie.
Begin dadelik jou stroop kook as jy die suiker en water bygevoeg het en gee die stroop so ‘n goeie 20 minute of dalk selfs ‘n halfuur voorsprong voordat jy jou vrugtestukkies byvoeg. Kook dan tot jou stroop effens “langerig” en dikkerig is maar dit hoef nie ‘n dik, taai spulletjie te wees soos wanneer jy konfyt of jellie kook nie. Kook tot jy tevrede is met die tekstuur van jou stroop maar maak terselfdertyd seker dat jou vrugte nie pap gekook is nie.
Vul jou gesteriliseerde bottels so amper driekwartvol met vrugte – daar moet darem ook ‘n plekkie vir genoeg stroop in elke bottel wees.
Bottel terwyl die stroop en vrugte nog warm is en laat staan ‘n paar dae voordat jy kan oopmaak en geniet. Dit is veral heerlik as ‘n nagereg met ‘n skeppie vla en herinner nogal aan ingelegte pere.