20
Mon, May

Salads
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Goed, goed, ons weet die meeste van ons mense wil in hierdie stadium (op die uiterste vir die volgende week of twee, dalk drie...) niks van kos, lekkergoed, soetgoed, gaskoeldrank, koeke, terte en tipiese Suid-Afrikaanse vetmaakbederfies weet nie. So tradisioneel soos vrugtekoek vir Kersfees, so is dit seker nou al tradisie dat Suid-Afrikaneers elke jaar vir die eerste klompie weke van elke nuwe jaar op dieet is. Almal is behoorlik keelvol vir die oordadigheid wat in die pasafgelope feesseisoen grotendeels aan die orde van die dag (en nag) was. 

Bowendien is dit die afgelope klompie weke al so warm dat geen mens dit in 'n warm kombuis wil waag nie, so nee, ons sal julle nie kwalik neem as julle dalk met geligte wenkbroue na ons kookrubriek loer nie. Daarom dat ons dit goedgedink het om ons lesers te verras met 'n vars, verfrissende slaai wat jy in jou dag des lewens nie gedink het is moontlik nie. Al gehoor van "broodslaai"? Ja, jy't reg gehoor - broodslaai - kan jy jou indink dat die lekkerste slaai ooit uit 'n brood kom en dat dit selfs lekkerder as rysslaai of die immergewilde aartappelslaai is?
Ja, ons wou dit ook nie glo nie, maar glo ons vry - 'n lekkerder slaai as broodslaai sal jy nie maklik op jou tafel kry nie - ongelukkig egter, ietwat anders as in die geval van aartappelslaai, verg die broodslaai nogal heelwat handewerk en 'n bietjie meer moeite, maar daar is geen twyel dat die opregte komplimente aan jou etenstafel die bietjie ekstra moeite dubbel en dwars die moeite werd sal maak nie.
Vir die wat wonder - hoewel nie heeltemal onbekend nie, het broodslaai onder die "afgelope" generasie so ietwat in onbruik verval - miskien omdat ons mense deesdae meer op die uitkyk is vir goed wat verbruikersvriendelik is - kitsoplossings en -metodes is mos die wagwoord. Nouja, wyle mev Cecile Kemp, oudste suster van mev Orpa Boonzaaier van Rustenburg en ouma van Loulené Jacobs, was 'n huishoud(des)kundige by uitstek wat al twee gesogte resepteboeke gepubliseer het. Haar broodslaairesep is ongetwyfeld 'n treffer en haar kleindogter (Loulené) het dit oor die pasafgelope kersvakansie vir tydens 'n familie-ete vir ons voorgesit. 'n Mens maak dit so:

Broodslaai:
Sny 'n witbrood op in blokkies van 1½ cm en braai in diep olie 'n dag voor jy dit benodig. Laat dit oornag oop. Let wel - broodblokkies kan ook in die vrieskas gebêre word.

Sous:
4 eiers
375 ml suiker
7 ml droë mostert
250 ml wit asyn
250 ml kaasblokkies
sout en peper

Metode:
Klits al die sousbestanddele saam vir 5 minute. Kook vinnig en roer gedurig. Wanneer afgekoel en ongeveer 'n halfuur voor bediening, voeg jy 125 ml vars room en 125 ml Mayonnaise by. Meng nou die brood- en kaasblokkies goed. Gooi die sous oor net voor opdiening, laat rus vir 'n minuut of twee en geniet. Beslis die lekkerste slaai ooit!