20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE - KLERKSDORP -  Al hoe meer mense lê deesdae ‘n groentetuin by die huis aan. Dit kan klein of groot wees, afhangende van die ruimte wat beskikbaar is. Die sukses daarvan hang egter grootliks af van die deeglike voorbereiding van die grond. Christa van Rooyen is so ‘n grond-dokter. Haar dorpstuin in Klerksdorp lewer elke seisoen ‘n oes van gesonde groente en kruie. Jy het nie groen vingers nodig nie, glimlag Christa, maar eerder kennis om jou groente en vrugte organies voor te berei. En alles begin by die grond.

Christa bied gereeld kompos- en grondkursusse aan in Klerksdorp en die eerste een vir die jaar vind op 17 Februarie plaas. Sy maak haar eie kompos wat sy in haar tuin bewerk wat gesonde grond verseker. Sy het ‘n broertjie dood aan perfekte groente en vrugte wat mense in supermarkte te koop kry. “Hoekom wil ons iets eet waaraan ‘n gogga nie eers wil eet nie? Daardie groente of vrugte is so van gif bespuit, dit kan onmoontlik nie goed wees vir menslike gebruik nie.’’
Sy het ook ‘n studie gemaak van kruie en plante wat medisinaal gebruik kan word en weet presies watter plante jy ‘n tee van kan trek of ‘n salf mee kan maak vir verskillende olikhede. Tydens ‘n staptog deur haar tuin, hang mens behoorlik aan Christa se lippe wanneer sy plante identifiseer wat help vir allerhande kwale. Die eiervrugte blink pers in die son, groot komkommers rank teen op teen ‘n prieël en ‘n tamatie uit haar tuin proe soos ‘n vakansie in Italië.
Tussendeur die gesels en wenke oor verbouing van groente pluk sy kruieblare vir ‘n gesondheidsbroodjie wat ons later gaan eet. Het jy geweet mentblare help vir jou spysverteringstelsel? 
Sy weet watter kos plante nodig het en wil mense aanmoedig om eerder hul eie kompos te maak as om dit aan te koop. “Daar is lewendige organismes in kompos en as dit in ‘n plastieksak iewers op ‘n hoop in die son lê en bak gaan daar mos niks lewendigs daar uitkom nie.’’ Dit maak nogal sin, né?
Gif is ‘n onding in haar tuin en sy beveg plantsiektes organies. 
Tuine kan nie altyd perfek wees nie. “Ons het baie reën gehad die afgelope tyd en toe die hitte. Dit is nie goed vir plante nie, want hulle kry niks uit die grond nie. Goeie organismes spoel weg of gaan dood. Die slegte organismes neem oor en dan word jou plant siek.’’ Sy beveel ‘n deklaag aan van blare, klippies, houtskaafsels of boombas om grond teen te veel koue of oormatige hitte te beskerm.   Die gesels raak nie op nie, maar die tyd wel. Ek groet met tuisgemaakte pesto, drie pers eiervrugte en ‘n kruiesalf in my sak en die woorde: “Jy kan gesond leef uit jou tuin”.
Indien jy belangstel in die kompos- en grondkursus, skakel 071 903 0994.

Bestanddele:
suurdeegbrood
1 mango, in skywe gesny
Mozzarella
Mentblare
Roketblare
Enige pesto
Balsamiek ‘glaze’

Pak alles in verskillende lae op die suurdeegbrood. Geniet saam met ‘n yskoue lemonade of ystee.