20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit was taamlik lanklaas dat ons ‘n koek geëet het wat amper die hele naweek in ‘n mens se agterkop bly - selfs langer as die Bokke se verloortoets teen Romain Poite - daardie bleeksiel-Fransman van verlede naweek en die vernietpunte wat Jannie du Plessis boonop reg voor die pale teen die All Blacks afgestaan het... 
Maar om na die tyd oor die rugby te wroeg, help in elk geval niks nie. Laat die vroulief in jou lewe vir jou hierdie ongelooflike lekker koek/tert (of wat jy dit ook al wil noem) aanslaan en jy sal baie vinnig van rugby op Eden Park se velde vergeet. Die wonderlike ding van hierdie koek is dat dit uiters gesond is en dat dit absoluut heerlik is - self vir ouens wat nie ‘n soettand het nie - want sien - hierdie koek eet ‘n ou nie vir “soetkoek” op nie - eenvoudig omdat dit nie ‘n soetkoek is nie... 
Terwyl die Bokke nou nie aan die verwagtinge kon voldoen deur vir die eerste keer in 76 jaar op Eden Park ‘n kleim af te steek nie, het die span van De Huizemark hulself onderskei deur vir ons ‘n koek te bak waarvoor selfs Romain Poite sekerlik nie “nee” sou kon sê nie - laat ‘n mens wonder hoeveel hy vir dié toets gekry het in elk geval... (Maar hy sal dalk wys wees om vir die afsienbare toekoms liefs nie sy “Poite” in Suid-Afrika te sit nie, veral natuurlik as hy net so kleinserig is soos die All Blacks se Dan Carter (“midfielder” - of wat speel hy nou weer?) Elk geval - ek kan nie onthou wanneer laas ek aan so ‘n heerlike koek gesmul het nie. Die De Huizemark-span het dit só gemaak...

Bestanddele
1 pak Bacon Kips (fyngemaak); 
125 g botter;
2 blikkies tuna;
4 eetlepels Mayonnaise (gemeng met fyngemaakte uie);
1 avokado (fyngemaak en gemeng met suurlemoensap);
Aromat;
sout en peper;
250 g roomkaas;
2 eetlepels room;
Pietersielie;
4 hardgekookte eiers;

Metode
Meng die Bacon Kips met gesmelte botter en sit onder in ‘n losboom-pannetjie. Meng die tuna met Mayonnaise en uie en sit bo-op kors. Maak avokadopeer fyn en meng met suurlemoensap - geur met Aromat, sout en peper en sit bo-op tuna. Meng roomkaas met room en meng met fyngekapte pietersielie. Sit bo-op avokadopeermengsel. Rasper hardgekookte eiers en sit bo-op roomkaas. Sit heel laaste fyngekapte pietersielie bo-op. Bedek en plaas in yskas vir ‘n dag voor gebruik. Bedien met enigiets waarvan jy hou en laat ons weet of jy al iets geproet het wat naastenby so lekker is... Ongelooflik! Baie dankie julle uitstekende “Huizvrouens”!