20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit is ‘n probleem waarmee my vrou gedurig sukkel – en indien jy enigsins soos ek oor pampoen voel dan weet jou familie seker hoe sy voel. Maar hierdie week het die Rustenburg Herald ‘n resep by Anita Pieterse, Maritha Phiri en Lestar Matiki Phiri van die Tarentaal Teater gekry wat uiteindelik al daardie probleme gaan oplos: ‘n pampoentert wat meer “pudding” as pampoen is. En volgens Anita is hierdie besonderse resep reeds een van die redes waarom die mense van Rustenburg keer op keer terug kom na hul lokaal toe. Of dit nou die klein dogtertjie is wat vir haar derde porsie kom vra of die man wat geweier het om die perseel te verlaat totdat hy die resep kry, die Tarentaal Teater se pampoentert is ‘n legende onder die mense van Rustenburg.
Dit is ‘n gereg wat nie net as bykos bedien kan word nie maar inderdaad as ‘n nagereg op sy eie. En glo my, al eet jou gaste nie pampoen nie sal hul of ook aandring op die resep of terugkeer vir nog. Selfs toe ek proe toe lag Maritha en Lestar vir my: hul het voor die tyd uitgevind dat ek nie graag pampoen eet nie. Maar die uitdrukking op my gesig het dit duidelik aan hul gemaak: hierdie pampoentert is iets besonders!
Probeer gerus hierdie resep, jy sal nie spyt wees nie. Alternatiewelik, besoek gerus die Tarentaal Teater op die Rex-pad net buite Rustenburg. Hul bied weeklikse vertonings van bekende kunstenaars aan asook ‘n uniek plaasgevoel!

Bestanddele:

100g botter
200ml suiker
3 eiers, geklits
250ml meel
15ml bakpoeier
Knippie sout
5ml vanieljegeursel
3 koppies gaar pampoen of botterskorsie, fyngemaak

Sous:

75g botter
200ml room
125ml suiker 

Metode:

Verhit oond tot 180°C en room die botter en suiker bymekaar. Voeg geklitste eier bietjie-bietjie by en roer meel, bakpoeier en sout by.
Roer pampoen en vanieljegeursel in. Gooi die beslag in ‘n gesmeerde oondbak en bak vir 45 minute.
Maak die sous 10 minute voor die tert uit die oond gehaal word. Verhit al die bestanddele saam in ‘n pot. Dit moet borrel. Sodra die tert uit die oond kom, giet die sous daaroor.
Laat staan vir paar minute en bedien.