20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In gewilde strokiesverhaaltjies word karaktertjies gewoonlik uitgebeeld om van een of ander sort dis/gereg/lekkerny te hou - soos die alombekende “Popeye” wat spinasie nie kan weerstaan nie en Garfield (die kat) wat buitengewoon lief is vir lasagne en spaghetti... Nouja, dit is nie net in strokiesverhale dat mense lief is vir spinasie nie - spinasie is deesdae ‘n gewilde gereg en dit is seker maar net die stoutste kinders wat nie van spinasie hou nie - veral sedert spinasie se gesondheidsvoordele bekend geword het.

Salon Mani-fique is ‘n span pragtige dametjies wat nogal ‘n soortelyke transformasie in vroue se hande as die spinasie in Popeye se arms veroorsaak, behalwe, hier gaan dit oor die “looks” natuurlik - Salon Mani-fique spesialiseer in manikuur (hande en naels) en as dit by die kombuis kom, staan hulle hande ook vir niks verkeerd nie. Natasja Erasmus, Bianca Lotheringen, Bonnie Maartens, Yolandie Potgieter en Cherise Landsberg het onlangs hande gevat en vir ons ‘n heerlike spinasie- en spekgereg voorberei. Hulle maak dit so:

Braai een pak gesnipperde spek (bacon) tot mooi bruin. Haal uit die pan en plaas eenkant. Braai nou een groot ui in stukkies gesny in dieselfde pan in die spek se vet tot mooi bruin. Bêre saam met die spek en ui eenkant. 

Braai gesnyde sampioene tot sag. Sit ‘n bietjie botter of Margarien by indien nodig. Plaas dit saam met die spek en uie eenkant. Gooi vars gesnyde spinasie met botter in dieselfde pan en braai liggies. Gooi alles saam, strooi peper oor en roer goed deur. Gooi nou jou witsousie oor - bedek alles goed met witsous. 
Voeg heel laaste die kaas by - gooi ‘n paar hande goed gerasperde kaas bo-oor en bak in die oond op 180°C tot dit ‘n mooi, effe ligtebruin kleur het of tot al die kaas deeglik gesmelt is. Jy kan dit bedien met ‘n mengelslaai en selfs ‘n lekker varsgebakte brood.

Witsous 
Jy maak jou witsousie so:
2 eetlepels botter;
2 eetlepels koekmeel;
2 koppies melk;
Sout en peper na smaak.

Smelt die botter, gooi die meel, sout en peper by en roer tot dit goed opgelos is. Gooi melk by en roer aanhoudend tot dit ‘n lekker dik sous gevorm het.