20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Een van die interessantste dinge wat mens weekliks beleef in ons reeks “kookartikels” is hoe dikwels dood-gewone mense dit regkry om die smaaklikste disse met die minimum moeite en kostes voor te berei. Met die pryse wat deesdae by die week verhoog is almal op soek na nuwe resepte en idees vir die kombuis wat nie net smul-lekker is nie maar ook lig op die beursie!
Hierdie week het die kookspan van Rustenburg Herald gaan kuier by Edkins Tamatieboerdery waar Suzaan Louise Jooste haar smaaklike tamatie-gegeurde rysresep met ons deel. Suzaan vertel vir ons: “Die plante wat ons nou geplant het is winterplante en hulle leeftyd is 6 maande. In die somer gaan ons somerplante plant. Die plantjies word gekweek in ‘n klein kweekhuis en daarna word dit eers uitgeplant in tonnels. Tans gaan ons eers in kratte direk aan die publiek verkoop en van die tamaties gaan ons verpak en in houers mark toe stuur.” Suzaan se tamatie-gegeurde rys is beslis ‘n wenner vir die winter! Dit is nie net gesond nie, maar ook maklik en vinnig om voor te berei. Die gereg kan bedien word saam n stukkie vleis/vis, of dit kan ewe maklik as ‘n “enkelgereg” bedien word.

Lewer 2 - 4 porsies
Bestanddele:

1 eetlepel olie
1 eetlepel botter
1 medium ui, fyngekap
1/2 teelepel sout
1 teelepel knoffel
1/2 teelepel komynpoeier
1/2 teelepel koljanderpoeier
1/2 teelepel gemmerpoeier
1 koppie witrys (rou)
1 blikkie ltaliaanse tamaties 400g
1 eetlepel tamatiepasta
1 eetlepel groente-aftrekselpoeier
1 koppie water
Sout en peper na smaak
1 medium rooi soetrissie, fyngekap
1 handvol basiliekruidblare, fyngekap

Metode:

Verhit olie en botter in ‘n groot pan oor matige hitte. Voeg fyngekapte ui by en braai tot ligbruin. Verlaag die hitte en voeg sout, knoffel, komyn, koljander en gemmer by en braai vir ‘n minuut. Voeg die rys by en roer totdat al die rys bedek is met die olie en botter. Voeg die tamaties met sap en tamatiepasta by en breek die tamaties fyner met ‘n houtspaan. Voeg die groente-aftrekselpoeier en water by, geur na smaak. Bring tot kookpunt en verlaag weer die hitte tot baie laag.
Sit deksel op en laat prut tot rys gaar is en die meeste vloeistof geabsorbeer is. Net voor bedien word, verwyder van hitte en voeg die soetrissie en basiliekruidblare by.
Bedien die gereg met suurroom en ‘n suurlemoenskyfie.