20
Mon, May

Chowder
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Boeke is al vol geskryf oor die gesondheidsvoordele van hoendersop en net soos suurlemoene en appels wat oor eeue heen die dokter se besoeke kortgeknip het, bied die kwaliteite van hoendersop maklik ‘n dosyn of meer gesondheidsvoordele. Een van die maklikstes hiervan wat dadelik by ‘n mens opkom, is die “boereraat” wil ‘n mens amper sê, dat hoendersop nie sy gelyke het om die koors van ‘n siek pasiënt te breek nie. Hoendersop (let wel, dun in dié geval) help glo ook om ‘n omgekrapte maag reg te ruk en as ‘n ou na ‘n lang siekbed weer sukkel om jou kragte te herwin, is daar niks beter as hoendersop nie.
En dan het ons nog nie eers begin om oor die wonderlike voordele van hoendersop in die “hartjie” van die winter te praat nie. Ja, die mense onder ons wat die veld ken en weet hoe koud dit vroegoggend of laataand in die jagveld kan word, sal getuig watter aangename verrassing ‘n potjie warm hoendersop met die jaggeselskap se tuiskoms is.
Vandeesweek kook ‘n “ou Rustenburger” (maar ‘n betreklike jong man) vir ons een van sy gunsteling-winterdisse. Morné van Zyl wat vir jare by die Rustenburg Gholfklub agter die potte was en daarna in spysenierskringe bekend geword het, is sedert onlangs aan die stuur van die kombuis en spyskaartsake by Malichri-restaurant ‘n hanetreetjie wes van Rustenburg op die Swartruggens-pad (skaars twee, drie kilometer anderkant die groot Swartuggensbult…).

Bestandele
1 heel hoender (gewas); 
2 groot uie;
4 koppies gesnipperde sampioene;
½ teelepel fyn naeltjies;
2 teelepels Aromat;
1 eetlepel gemaalde knoffel;
3 liter water;
1 liter vars room;
2 liter vars melk;
4 eetlepels botter;
½ koppie vars pietersielie (gekap).

Metode
Sny die hoender in stukkies, kap die uie in blokkies, voeg sampioene, naeltjies, Aromat en knoffel by. Kook in water tot die hoender deeglik gaar en heerlik sag is. Verwyder die beentjies en kook tot re­duksie van ongeveer 1 liter water.

Voeg nou die melk, room en botter by en kook vir nog ongeveer 20 minute saam. Bedien met vars brood of in ‘n uitgeholde “crispy roll”. Besprinkel met pietersielie. Verdik die sop met 3 eetlepels Maizena indien nodig. Hierdie resep behoort voldoende vir agt taamlike honger mense te wees – lekker eet en ja, u mag maar die broodjie sou nou en dan lekker diep in die sop doop, veral as jy langs ‘n lekker warm bosveldvuurtjie sit.

Rustenburgers wat graag weer vir Morné wil hallo sê of wil hoor wat hy nog in Malichri se kombuis kan optower, is welkom om by 084-719-9695 met hom in verbinding te tree. As u dalk daarvan hou om die leeus te hoor brul wanneer u ‘n wildsvleisie of skemerkelkie geniet, sal dit wys wees om sommer vandag nog te skakel…