20
Mon, May

Other
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die afgelope klompie maande is Rustenburg behoorlik ‘n vrekwarm, half onsmaaklike plek en enigiemand sal verskoon word om te dink dat dit seker nie nou die regte tyd vir sopmaak is nie. Dalk so, maar wie weet, die SA Weerdiens kom geruime tyd al gereeld met voorspellings dat “groot reën” vir Suid-Afrika op pad is en dat daar so ‘n bietjie dieper die jaar in, baie sopnat, mistroostige dae vir ons voorlê. Dit is met hierdie tyd in gedagte dat ons huisvrouens en kosmakers hierdie heerlike sopresep van Priscilla Löhmann teen die yskas moet hou en sorg dat die groenterakkie nie onverwags leegloop nie.

Priscilla is die lig in die lewe van Andries Erasmus en aanstaande skoondogter van bekende Rustenburgers – Jan en Elmarie Erasmus. Dit is duidelik dat Priscilla haar slag by die kospotte ken en met iemand wat so handig met die soplepel is, kan enige winter maar kom… Die unieke van Priscilla se sop in hierdie week se uitgawe – is ‘n kombinasie van twee ewe-lekker soppe – ‘n murgpampoentjie & Brie-sop en die tweede deel – ‘n oondgebraaide Rooi-soetrissiesop… Dit word só gemaak:

Bestanddele:
2 mediumgrootte uie (gekap);
30 ml botter/margarien;
3 mediumgrootte patats in blokkies van 1cm gesny;
800 g murgpampoentjies met die punte afgesny en in stukkies van 4 tot 5 cm gesny;
15 ml groente-aftreksel opgelos in 500ml warm water;
1 brie-kaas;
1 Portugese rolletjie in snytjies;
Olyfolie om broodjies te smeer;

In ‘n medium tot groot pot, smelt die botter/margarien oor medium tot lae hitte en laat “sweet” die uie vir 5 tot 7 minute todat dit sag en deursigtig is. Verhoog die hitte en voeg die patats en murgpampoentjies by. Voeg die groente-aftrekselpoeier/watermengsel by en verminder die hitte tot medium sodra dit begin kook. Kook todat die murgpampoentjies en patats sag is. Rooster jou broodjies tot goudbruin. (Moet nog nie opdien nie…)

Oondgebraaide soetrissie-sop (rooi)
Bestanddele:
4 medium tot groot rooi soetrissies;
10 medium tamaties;
Knoffel;
4 medium rooi uie;
15 ml groente-aftreksel (poeier) opgelos in 500 ml warm water.
Origo;

Voorverhit jou oond tot 190 °C. Verdeel die soetrissie, uie en tamaties in kwarte, voeg ‘n bietjie olyfolie by en plaas met die velkant ondertoe op waspapier en voeg knoffel en nog ‘n bietjie olyfolie by. Geur met sout, peper en origo. Braai vir ongeveer 30 minute en plaas daarna in pot met die groente-aftreksel en watermengsel en laat kook oor hoë nitte. Verminder hitte tot medium en laag wanneer mengsel begin kook. Laat prut vir nog 30 minute en bedien dan altwee soppe in een bordjie saam (‘n skeppie of wat van elk) met roosterbrood en oondgebraaide olywe.
So asof die weer ons gedagtes gelees het – teen Dinsdag toe ons hierdie resep persgereed het, het die reën begin uitsak. Dankie Priscilla.