20
Mon, May

Other
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie week se kook vertel ons ‘n storie met ‘n tragiese nadraai wat tans in hogerige kringe opslae maak. “Pin” Promkhot is ‘n Thaise meisie wat die afgelope 18 maande al (met die nodige dokumente en permitte) in Rustenburg by Michael en Elsa Doubell woon en binne enkele weke met Christo (Elsa se seun) in die huwelik bevestig sou word. (Hopelik gaan dit nog voort - sien later in ons artikel...).
Elk geval - Elsa en haar aanstaande skoondogter het ons voorverlede week genooi om ‘n tradisionele Thaise Tom Yum-sop met Kokosneutmelk te kom geniet. Uiteraard het ons bygestaan toe dit voorberei is. Vir ons mense wat lief is vir sop, kan hierdie resep gerus in die lig van die komende winter eenkant gesit word. Elsa en Pin maak dit so:

Bestanddele
4 tot 6 koppies hoenderaftreksel; 
1 takkie sitroengras (lemongrass) fyngemaak of 4 eetlepels gevriesde voorbereide sitroengras (beskikbaar by die meeste Indiërwinkels)
3 tot 4 huisies knoffel, fyngekap;
3 eetlepels vis-sous;
‘n Goeie handvol vars shitake sampioene, dun gesny;
12 mediumgrootte rou garnale met doppe verwyder;
½ blikkie hoë-kwaliteit kokosneutmelk of ½ blikkie ingedampte melk (Ideal);
1 eetlepel vars lemmetjiesap;
‘n Derde koppie vars koljander, (cilantro) grofgekap;
Opsioneel: ½ teelepel suiker;
Opsioneel: Ekstra groente van jou keuse - nie te veel nie!

Metode
Gooi hoenderaftreksel in ‘n dieperige kastrol en laat kook;
Voeg die sitroengras (lemongrass) by en laat kook vir 1 tot 2 minute. As jy vars sitroengras gebruik, gooi sommer ‘n paar stukkies van die stingel in vir ekstra geur.
Voeg die knoffel, chili en lemmetjieblare en sampioene by. Verminder die hitte en laat saggies prut vir 1 tot 2 minute. Voeg die garnale en ander groente van jou keuse soos kersietamaties en broccoli by en laat prut vir 3 tot 4 minute of tot die garnale pienkerig en ferm is.
Verminder hitte tot meduim-laag en voeg die kokosneutmelk en vis-sous asook lemmetjiesap by. Roer goed om te vermeng en laat saggies stowe tot warm. Toets die sop vir sout en speserye, voeg meer vis-sous by as sout indien nodig.
Jy kan ook ‘n bietjie ekstra chili byvoeg as jy verkies. Indien te sout, voeg ‘n halwe teelepel suiker by. Indien dit te geurig of sterk is, voeg ‘n bietjie ekstra kokosneutmelk by.
Bedien in bakkies met vars koljander bo-oor. Vir ‘n bietjie ekstra geur, kan jy Thai chili-sous byvoeg.
Vir hul weergawe het Pin en Elsa ‘n bakkie heerlik-gekookte Thai-rys saam bedien - ‘n heerlike kombinasie!