20
Mon, May

Other
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

‘n Lekker kaggelvuurtjie, ‘n warm kombers, ‘n blokkie “sjoklits” vir die troos as die fliek ‘n regte tranetrekker is en wat dink jy skort nog? Maar natuurlik – Sop! Ja, in Suid-Afrika en seker maar die hele wêreld is sop hoog bo-aan die lys as dit by winterkosse kom en omtrent elke familie in die land het sy eie “geheime” sop wat dan nou so lekker, maklik en “goedkoop” is… Sop is seker ook maar een van daardie dinge wat ‘n mens met die tyd leer geniet – toe ons kinders was en pa Saterdagoggende die saggeweekte boontjieskilletjies so tussen die duim en voorvinger begin “afdop” (ja, pa het van sy boontjiesop afgedop gehou), het ons geweet – “vanaand moet ons maar weer druk op die brood want is daar is alweer sop op die tafel…” Min het ons geweet hoe ons in ons latere jare na ons kinderdae se soppotte sou verlang as die kombuis oor wintersnaweke ene boontjiesop ruik. So, in hierdie aflewering van “Raak die ‘klits’ kwyt” voor die winter heeltemal verby is, Lezel Smith en haar familie se “geheime” groentesop. (Terloops, in ons huis is dit tradisie dat Saterdag en Sondag se Wimbledon-finaal nie hand-aan-hand gaan met aarbeie en room soos die Ingelse nie, maar met regte egte Suid-Afrikaanse boontjiesop natuurlik. Die afgelope naweek was geen uitsondering nie).

Lezel se groentesop

Bestanddele:

1 pak lekker sopvleis (500 g)
1 ui
2 wortels
2 tamaties
2 aartappels
2 preie (leeks)
2 bossies pietersielie
2 bossies seldery
2 rape
1 pakkie beesstertsop
Twee handevol spaghetti in kleinerige stukkies gebreek
1 koppie 3 in 1 sop mengsel
10 -14 koppies water
Sout en peper na smaak

Metode:

Rasper al jou sagte groentes. Sny die sopvleis in kleinerige blokkies. Gooi die blokkies sopvleis in jou drukkoker, voeg 14 koppies water by. Voeg al die gerasperde bestanddele en spaghetti in die drukkoker en sout & peper na smaak. Roer al die bestandele deeglik deur. Stoomkook vir sowat 45 minute. Haal dan van hitte af, roer ‘n pakkie beesstertsop wat tot ‘n dikkerige pasta aangemaak is by en kook sonder ‘n deksel vir nog sowat 10 minute teen matige hitte. Laat effens afkoel en jy is gereed vir ‘n feesmaal! Sop is heerlik op sy eie of saam met ‘n liggies-gebotterde broodjie.