20
Mon, May

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As ‘n bloedjong nooi vir jou sê sy bak die lekkerste appeltert in die dorp kan jy dalk maar die voorkop se plooie in ‘n frons laat trek, maar as ‘n baie mooi bloedjong nooi vir jou sê sy bak haar ouma se gunsteling-appeltert en dat dié heel moontlik die lekkerste in die dorp is, sal jy wys wees om te vra hoe laat jy daar moet wees. So is dit nou maar, ons ouer-generasie vroue (ja, en selfs baie mans) weet maar net eenvoudig beter hoe dinge in die kombuis werk en wat hulle daar laat “verrys” is meestal ‘n treffer. Nouja, voorwaar is ons gelukkig vandeesweek met ‘n baie mooi bloedjong nooi en haar ouma wat ons genooi het om te kyk hoe die lekkerste appelterte in die dorp gebak word. Ons baasbakkers is Mikayla Stols en haar ouma, Leonie van Staden. In die familie is ouma Leonie bekend vir haar heerlike appeltert en wanneer die familie ‘n saamkuier-ete hou, word daar meestal nie gevra wat daar vir nagereg voorgesit moet word nie. So hier gaan ons – ouma Leonie en Mikayla maak dit so: 

Bestanddele:

4 Eiers
1 Koppie suiker
250 g Botter (kamertemperatuur)
1 Teelepel Vanilla-ekstrak
½ Teelepel sout 
2 Koppies bruismeel
2 Blikke tert-appels (ingelegte appels)

Dan maak jy so: 

Room die botter, eiers, suiker en Vanilla saam. Gooi melk by, dan meel en sout en klits tot glad. Smeer die tertbak, gooi die beslag uit in die bak en pak die appelskyfies mooi daarin. Bak vir 45 minute teen 160°C. 

Appeltert-sous

Maak die volgende sous aan: 

1 Koppie Ideal melk
1 Koppie suiker
25 gram Botter
Verhit stadig tot kookpunt, gooi oor die gaar tert en bak dan vir ‘n verdere 10 minute. Bedien jou appeltert met styfgeklopte room of met enigiets waarvan jy hou – net so “kaal” is glad nie ‘n skande nie. ‘n Heerlike koppie tee of koffie of as jy dan nou lekker tradisioneel wil wees – gemmerbier – is ‘n uitstekende kombinasie. Dankie Leonie en Mikayla – laat weet gerus wanneer ons weer moet kom!