21
Thu, Nov

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir Rustenburg Herald se “Raak die ‘klits’ kwyt”-kookspan het dit amper ‘n jaar geduur voordat ons uiteindelik vir Christine Hoogdendoorn van die Vrouelandbou-uniei se Mosaiëk-tak in die kombuis en om ‘n tafel vasgepen kon kry sodat sy vir ons kon wys hoe ‘n mens die sogenaamde “skuinskoek” “bak” - of moet ons liewer sê “kook”? En ja, ons skroom nie om te sê dat die wag ongetwyfeld die moeite werd was nie - skuinskoek is regtig ‘n baie, baie lekker happie en ons was al te aangenaam verras met dit wat ons in ons bordjies gekry het. Die naam “skuinskoek” veronderstel seker maar dat ‘n mens ‘n ding soos konvensionele koek in jou bordjie verwag? Seker maar net omdat ‘n mens dit nie ken nie - as iemand sou sê vetkoek - sou almal onmiddellik weet wat ons bedoel... 
Nouja, hierdie week was daar vir Christine geen wegkomkans nie en was ons nie aangenaam verras nie? As ons nou in ons beskeidenheid moet verduidelik wat skuinskoek is, sal die beste verduideliking wees om te sê dat dit presies in die middel van vetkoek en koeksisters is. Dieselfde tekstuur as vetkoek en amper dieselfde struktuur as koeksister. ‘n Bietjie (heelwat?) soeter as vetkoek maar darem nie naastenby so soet soos koeksister nie. Maar dit het iets in gemeen met beide vetkoek en koeksister - dit is werklik baie, baie lekker en ‘n mens sukkel maar om met net een, twee, of drie in jou bordjie tevrede te wees. Trouens, ‘n mens kan heelwat meer skuinskoek as koeksisters in jou bordjie sit en daar sal seer sekerlik nie een oorbly nie...

Hoekom skuinskoek?
Die storie is dat skuinskoek glo van die Karoo kom - en in besonder van die Hantam-wêreld. Daar word vertel dat skuinskoek net so diagonal/skuins is as die plasies in die Hantam - vandaar die naam. Dan word die skepping ook opgedra aan ‘n sekere Elsa van Schalkwyk wat die resep aanvanklik by haar moeder gekry het, maar dit met die hulp van ‘n goeie klompie tannies in die omgewing verfyn het. Skuinskoek is veral heerlik saam met koffie en tee - maak seker dat jy ‘n groot beker in jou hand het - in die Karoo is daar nie regtig tyd en plek vir piepfyn koppies en pierings nie...

Bestanddele
2.5kg koekmeel 
3 koppies suiker
250g botter
30g kits-droëgis
1 teelepel gerasperde gemmer
1 teelepel gemaalde kaneel
‘n knippie sout
25ml anys
2 teelepels gerasperde suurlemoenskil
2 liter kookolie
Stroop
2 koppies suiker
750ml water
5ml sout

Maak dit so:
Meng al die bestanddele saam in ‘n bak met so tussen vier tot vyf koppies louwarm water totdat die lekker sag en glad is. Laat in ‘n taamlike warm vertrek totdat die deeg “deeglik” gerys het. Rol nou die deeg uit tot ‘n dikte van so 2.5 cm. Sny die deeg in stroke van ongeveer 2cm breed. Sny die deeg dan in skuins stukkies so elkeen 2cm “diep”. Hou jou klaar gesnyde koekies steeds in die warm vertrek terwyl jy bak.

Stroop - kook al die stroopbestanddele saam vir 5 minute en haal dan van die stoof af. Gebruik wanneer louwarm.

Verwarm die pot olie op die stoof. Om die temperatuur te toets, gooi ‘n klein stukkie van ‘n tandestokkie in die olie. As dit borrel en kook, weet jy dit is gereed. Gooi elk slag ‘n hele paar stukkies (vier of vyf op ‘n slag) van die gesnyde deeg-strokies in die warm olie en roerbraai tot mooi goudbruin (koffiebruin). Haal uit die olie en gooi die stukkies in ‘n leë koekmeelpakkie om die oormatige olie te absorber . Haal dan uit en plaas in ‘n sif oor ‘n bak en laat drup die stroop oor die stukkies deeg totdat dit goed bedek en glansend is. Dit gee die skuinskoek ‘n langer raklewe en maak dit ook effe toffierig en baie baie lekker. Laat afkoel en bedien saam met lekker koffie. Geniet verkieslik varsgebak vir ‘n heerlike versnapering.