24
Sun, Nov

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Noudat die strengste inperkings van Covid-19 wat kuier en braaivleis verbied, blyk om binnekort opgehef te word, is dit ‘n goeie idee om solank jou spyskaart vir jou eerste sosiale kuier te begin beplan. In hierdie uitgawe bring ons vir jou met groot vrymoedigheid die geheime van sekerlik een van die lekkerste bederfies waaraan ons nog gesmul het, sover dit die holkol in die soettand betref. Al gehoor van ‘n suurlemoenkaaskoek? Kom ons hou jou nie vir ‘n oomblik langer aan ‘n lyntjie nie.
(Terloops – hierdie kaaskoek is so watertandlekker, jy sal nie eers teleurgesteld wees as die Covid-inperkings toe nie opgehef word nie en jou gaste uiteindelik nooit opdaag nie!)

Bestanddele:

1 pakkie Mariebeskuitjies (gekrummel)
80 g (1/3 koppie) botter, gesmelt

1 pakkie suurlemoenjellie
250 ml (1 koppie) kookwater
250 ml geroomde maaskaas
1 blikkie 387 g kondensmelk
60 ml (¼ koppie) suurlemoensap
250 ml vars room
Suurlemoenskyfies en room vir versiering

Metode:

Meng die beskuitjies en botter goed en druk op die boom en kante van ‘n 20 cm-bak uit om die kors te vorm. Maak die jellie met kookwater en laat afkoel tot lekker stroperig. Klop die maaskaas tot lekker sag, voeg kondensmelk by en meng goed. Voeg stroperige suurlemoenjellie en sowat 125 ml van die vars room by (die oorblywende 125 ml gebruik jy om lekker styf te klop en jou kaaskoek te versier). Gooi die beslag in die voorbereide bak en laat vir nagenoeg 90 minute afkoel totdat dit geset is. Versier (as jy wil) met geklopte room en suurlemoenskyfies.

Variasie:

Vir ‘n heerlike somersnagereg, plaas stukkies gesnyde vars vrugte in individuele glas-poedingbakkies en gooi jou suurlemoenkaaskoekvulsel bo-oor voordat dit nog heeltemal geset het. Versier met room en vrugte en bon appétit!