20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wyle David Coetsee (oudredakteur van Rustenburg Herald) het in sy talle staaltjies en verhaaltjies altyd geskree “author, author…” wanneer hy iets kosteliks, buitegewoon snaaks, of pittigs kwytgeraak het wat dan nou volgens hom sy eie “skepping” was. Nouja, ongelukkig kan ons nie dieselfde kan doen met die “sawwe lyf” beskrywing in die opskrif hierbo nie.

Soos baie mense sal onthou, behoort dié raakvat-beskywing van ‘n beker lekker warm koffie natuurlik aan die legendariese storieverteller – Jan Spies – in ‘n destydse advertensie van een of ander soort koffie. Benewens die heerlike “sawwe lyf” in die nagereg wat Joelandi Minnaar vandeesweek vir ons opskep, het die feit dat dit ook ‘n skeppie koffie in het, ons aan die storielegende se oulike sêgoed laat dink.

Goed dan – nou terug na Joelandi se nagereg. Joelandi Minnaar (tot baie onlangs nog verbonde aan ‘n prominente eiendomsagentskap maar nou besig met haar eie onderneming – Vyfster Matwasdienste – maak vir ons ‘n heerlike Koffie & Amarula-nagereg. Soos sy dit self beskryf – “so lig soos ‘n soufflé en absoluut heerlik…” Sy maak dit so:

Bestanddele
20 ml koffiepoeier;
125 ml kookwater;
300 g malvalekkers (marsh mallows)
1 blik (410g ) Ideal melk;
30 ml Amarula-room;
125ml gekapte neute;

Versiering
Clover whipped cream;
1 stafie gerasperde sjokolade;
Tennisbeskuitjies (opsioneel);

Metode
Los die koffiepoeier in die kookwater op. Giet die koffiemengsel in ‘n groterige kastrol en sit ook die malvalekkers binne-in. Laat eenkant tot die lekkers feitlik heeltemal gesmelt het.

Klits intussen die koue melk tot styf. Roer die koffie-malvamengsel deur om seker te maak dat al die lekkers opgelos is. Roer die mengsel dan by die styfgeklitste melk in en voeg Amarula en neute by en roer goed deur.

Jy kan die mengsel in ‘n bak bedien of in mooi sjampanjeglasies – net soos jy verkies. Plaas die bak/glasies in die yskas vir nagenoeg 15 minute waarna dit gereed is om bedien te word.

Spuit/skep ‘n bietjie geklopte room bo-oor jou nagereg en strooi heel laaste ‘n bietjie gerasperde sjokolade bo-op om die nagereg mooi af te rond. Nou is dit gereed vir jou gaste om weg te val en te geniet. Onthou om genoeg te maak – ‘n tweede skeppie of glasie is taamlik algemeen, so moenie skaam wees nie, vertel Joelandi. O ja, en as iemand dalk ‘n skeppie op die mat laat beland, wel, dan weet jy sommer wie om te skakel nê?