20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nee kyk, nie alles in die Vrouelandbou-unie (VLU) gaan oor gebak, gekook en gekonfyt nie hoor. Daar is ook ander allerbelangrike dinge soos kuns, voordrag, naaldwerk, mode-ontwerp en ja, noem maar op – ons vroue se hande staan tog vir niks verkeerd nie… 
By Alta van Aardt van Rustenburg VLU-tak by wie ons vandeesweek vir ‘n “kook” ingeloer het, kon ons amper nie glo dat gebak nie eintlik haar groot passie is nie. Alta was vir jare in die onderwys en huishoudkunde: Mode-ontwerp, is eintlik haar storie. Toe ons kinders was, het die oumense altyd gesê: “So en so is ‘n “dress maker” (iemand wat klere maak). Nouja, Alta is ‘n “dress maker” by uitstek – sedert sy die onderwys ‘n klompie jare gelede vaarwel toegeroep het, spits sy haar voltyds toe op die ontwerp en maak van troutrokke en aanddrag. 
In haar onderwysjare was Alta sommer baie aktief op die netbalbaan - ons wonder hoeveel mense weet dat Alta ‘n voormalige provinsiale afrigter (Vrystaat) en SA-skeidsregter was. “Nee, ek is nie eintlik een vir kosmaak nie –ek hou meer van die soetgoed. Kosmaak is trouens, Ben (haar man) se storie. (*Ons hoop om binnekort saam met Ben om ‘n tafel te sit...) 


En moenie ‘n fout maak nie, in hierdie “Kook” maak Alta vir ons ‘n ongeskik-lekker Maaskaastert - (verskoon tog die uitdrukking – dit klink net soveel lekkerder met verwysing na ‘n tert…) Met apologie aan al ons ander baasbaksters wil ons amper sê, hierdie Maaskaastert van Alta is loshande een van die lekkerste soetgoed wat ons ooit in ons “Raak die ‘klits’ kwyt”-reeks raakgeloop het. Vra maar vir Alta – ons het telkens die bordjie vir nog ‘n happietjie uitgehou… Alta maak hierdie lekker tert soos volg:

Bestanddele
200g Gemmerbeskuitjies (1 pak); 
125ml gesmelte botter;

Vulsel
397g kondensmelk (1 blik);
125ml suurlemoenskap;
250ml room (styf geklop);
250g Maaskaas (sag – ongegeur);
1 pakkie suurlemoenjellie;

Metode
Krummel die gemmerbeskuitjies, meng met die gesmelte botter en druk vas in ‘n gesmeerde tertbak met deursnee ongeveer 25cm. Plaas dit in die yskas om af te koel.
Klits die kondensmelk en die suurlemoensap saam todat dit dik begin word. Voeg die geklopte room en maaskaas by en meng goed.
Skep die mengsel bo-op die beskuitjiekors en maak dit glad bo-op. Plaas dit vir nagnoeg 4 uur in die yskas totdat dit baie styf is. Meng die jellie met 250 ml kookwater en 250ml koue water. Laat afkoel in die yskas totdat dit net begin dik raak en skep dan versigtig in ‘n dun lagie oor die mengsel. Plaas terug in die yskas en laat verder stol voordat jy dit bedien.
Ons het al voorheen gesê – as jy ‘n paar gaste oorgenooi het vir tee of sommer net lekker kuier, moet jy ongetwyfeld sommer twee van hierdie maaskaasterte maak – dit is werklik onweerstaanbaar lekker!