19
Thu, Sep

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Stephanie Stols is wat mens nou ʼn formidabele vrou sal noem. Sy is boer in murg en been wat geen enkele treë vir haar manlike eweknieë hoef terug te staan nie. Sy is ʼn raakvatter wat haar Simbrastoet bestuur, maar ook tyd maak om haar kundigheid met ander te deel. Haar rol as voorsitter van Agri Vryburg bied haar dan ook ʼn platform om te help om boerdery in dié omgewing vir die toekoms lewensvatbaar te hou. Stephanie is egter ‘n vrou wat nie net hard in die kraal kan beeste werk en horingsbrand, draadspan en pomp trek nie. O nee, dié ma van vier se hande staan ook vir niks verkeerd wanneer dit by kombuissake kom nie. Tydens `n onderhoud met AgriPulse vertel sy dat die buitelug, die oop veld en haar kudde haar passie is. “As ek so kyk na die kalwers wat vanjaar aangekom het wil my hart bars van trots,” glimlag sy breed. Stephanie het tydens die onderhoud haar gunsteling Melktertresep met ons gedeel en ook gewys hoe `n smul Melktert moet lyk.

Die resep maak sowat ses tinfoelie pannetjies vol.

Kors

Meng die volgende bestanddele bymekaar.
250g margarine
12, 5 kookolie
25ml suiker
1 eier titseltjie vanielje
Voeg nou die volgende bestanddele by en meng tot sagte deeg.
500ml meel
10ml bakpoeier
Knippie sout

Druk in panne

Bak teen 180 grade in oond vir 15 minute.

Vulsel

Kook die volgende bestanddele saam.
4 koppies melk
1 koppie suiker
1 Eetlepel margarine
Skei 4 eiers en voeg die gele by die mengsel in die pot. Klop eierwitte styf en laat staan.
Meng die volgende bestanddele in bietjie melk tot gladde pasta.
3 eetlepels mielieblom
2 eetlepels meel
Voeg ook in pot. Roer melkmengsel aanhoudend totdat dit kook en stywe tekstuur het.
Haal van stoof af. Voeg titseltjie vanielje en eierwitte by.
Klop saam en  gooi in klaar voorbereide kors.
Sif kaneel bo oor.