20
Mon, May

AgriPulse-Vryburg - “Voorkoms en geure speel `n groot rol, veral in die Deli-wêreld.

Mense stap daagliks by die deli verby, op soek na iets vir middagete, soms heel onwetend waarvoor hul eintlik lus is om te eet. Disse moet vir hulself praat. Die aanloklikste en kleurvolste disse is gewoonlik dié gewildste.”
Aan die woord is Vryburg-inwoner en Deli-toesighouer by Pick `n Pay Vryburg, Albert van der Merwe wat die maand `n heerlike Hoenderroerbraai vir AgriPulse voorberei.
Dié kosfanatikus vertel beskeie oor sy reis deur die land waar hy emmers vol kennis en ondervinding opgedoen het oor hoe om heerlike geregte voor te berei en te bedien.
Albert was voorheen ook `n voedsel kontroleerder by `n nasionale voedsel en klere kettinggroep in Jeffreysbaai.
Sy hart het egter terug verlang na die platteland en so het hy in Vryburg op geëindig, waar hy tans werk.
“Jy moet jou werk geniet, en ek geniet dit hier. Daar is konstant iets wat gemaak kan word. Iets nuut wat jy kan uittoets. Wat dit vir my so spesiaal maak is die feit dat ek heeltemal van die tyd vergeet. Die is `n plek waar ek myself kan uitleef en geniet, as ek weer kyk was dit al lankal tyd om huis toe te gaan,” vertel hy.
Sy raad aan ander kosliefhebbers is om altyd jou instinkte te volg en dit nooit te beperk deur na ander se metodes te luister nie.

Read more …SMUL-LEKKER ROERBRAAI

AgriPulse-Vryburg – Wou jy nog altyd heerlike hoenderkerrie maak, maar kon nog nooit die geurigeheid en smaaklikheidspyker op die kop slaan nie?
Die maand hoef jy nie verder te soek nie, want AgriPulse het by Farhana Nanabhai gaan inloer en kon sy nie uitgepraat raak oor haar liefde vir kosmaak.
Dié Kerrie-fundie wat oorspronklik van Bronkhorstspruit afkomstig is, is deesdae `n tuisteskepper, ma van twee en werk deeltyds by `n bekende klerewinkel in Vryburg.
Sy vertel dat sy haar liefde vir bak en brou by haar ma en ouma geërf het aangesien sy vanaf haar elfjarige ouderdom gereeld in die kombuis moes uithelp.
Volgens Farhana is die gawe om te bak en kook iets wat mens kan aanleer en dat mens nie moet terugstaan bloot omdat resepte, kruie en bestanddele onbekend voorkom nie.
Sy pak elke resep gemaklik aan deur metodes vir haarself eenvoudiger te maak en dit net te geniet. Sy wys graag vir lesers hoe om heerlike kleurvolle en geurige hoenderkerrie voor te berei.

Read more …GEURIGE HOENDERKERRIE

AgriPulse-Vryburg – “Ons almal wil graag in oorgawe smul aan die heerlike disse wat vir ons voorgesit word.

Kerrie is ideaal vir die winter, maar dit beteken nie omdat dit `n bestanddeel in jou gereg is dat dit nie vir die hele familie voorsit kan word nie.”
Dit is volgens plaaslike prokureur Hendriëtte van Huyssteen by wie AgriPulse die maand gaan kuier het.
Die gesiene jongvrou en ook oudleerder van die Hoërskool Vryburg vertel dat sy haar liefde vir mense en kosmaak by haar ma geërf het.
“Ek onthou nog die uitlek van die kolwyntjiebak en witsouspot. My kombuis is die van lekker lag, kuier, familie en omgee. Ek glo ook dit is baie moeilik om ‘slegte’ kos te maak, want as jy iets met passie en oorvloed doen, sal dit suksesvol wees.”  
Sy vertel ook dat daar altyd oorskiet kos in haar huis is sodat niemand ooit nodig het om uit haar kombuis te loop met `n leë maag nie.

Gaan kyk gerus na die skakel http://bit.ly/kerriehoender om te sien hoe Hendriëtte kook.

Read more …ROMERIGE KERRIEHOENDER

Agri-Pulse-Vryburg – Ons kuier die maand by `n ma van twee dogtertjies, Willa Moolgie. Sy gee ons `n kykie in haar kombuis en deel een van haar en haar gesin se hartsresepte.
Willistene, oorspronklik van Jeffreysbaai, bly vir die afgelope vyf jaar saam met haar man, Jody Moolgie in Vryburg en leef haar passie uit as `n opvoeder by die Floradine Primêre skool.

Sy vertel dat sy van kook hou omdat dit vir haar `n plesier is wanneer sy die kos voorsit en mense geniet dit. “Dit is ook vir my lekker om bietjie met my kreatiwiteit te kan eksperimenteer. Dit help my ontspan en om te vergeet van werk en die druk van die aller daagse lewe. “Hong Kong Chicken”, soos dit bekend is in haar huishouding of meer bekend as Coke hoeder word voorgesit met rys. Sy het die resep by haar tannie wat nou reeds 81-jaaroud is en aan Elzheimers ly, geleer. “Ongelukkig kan sy nie meer al die lekker disse en resepte onthou wat sy altyd kon maak nie, daarom is ek dankbaar dat ek iets van haar kon leer,” vertel Willa. Haar raad aan ander kos liefhebbers is om dit wat hulle doen te geniet en met oorgawe te doen vir die mense vir wie hulle lief is. Kyk na die skakel ............... om te sien hoe die dis voorberei word.

Read more …HONG KONG CHICKEN

Agri-Pulse - Rustenburg – In hierdie uitgawe van Agri-Pulse spog ons kookspannetjie met ‘n uithalergereg wat eintlik baie goed bekend is onder die meeste Suid-Afrikaners.
Maar omdat ons weet dat ons boerderygemeenskap soms daarvan hou om op behoorlike wyse uit te hang, deel ons met julle die resep vir ‘n spoggerige hoenderpastei soos Elmarie Bos van Terra Casa-gastehuis in Rustenburg dit vir ons voorberei. 

In Rustenburg is Elmarie bekend as ‘n voortrefklike sjef en sy het ‘n slag om ‘n eenvoudige dis soos sommer ‘n hamburger op te dis dat dit selfs vir ‘n koning goed genoeg is. Elmarie noem haar gereg ‘n “maklike uithaler-hoenderpastei” en sy doen dit soos volg: (Wees gewaarsku – dit is nie sommer “enige” hoenderpastei nie). 

Read more …MAKLIKE UITHALER-HOENDERPASTEI (8 MENSE)

Ons het in die verlede al telkemale met student- en meestersjefs van Rustenburg se eie Professional Cooking Academy in die kombuis gekuier en om die tafel gesit. Vandeesweek maak ons weer so en stel graag vir Annlerie Oosthuizen en Johan Roodt aan ons lesers voor. Die twee is beide jong, maar bedrewe studentesjefs by die akademie en demonstreer in hierdie aflewering vir ons hoe om ‘n spogete met hoender voor te sit. 

Read more …STUDENTESJEFS SPOG MET GEMMER-, KNOFFEL- EN SOJA-GESMOORDE HOENDER

"Tandartse", sê die Amerikaanse kommediant, Bill Cosby, "is mense wat vir jou vertel om nie met kort, skerp metaalagtige voorwerpe in jou tande te krap nie. Maar sit jy in die tandarts se stoel, is die eerste ding wat hy gryp, 'n ysterhaak!" Nee, moenie glo nie - gelukkig is dit darem nie heeltemal die waarheid nie - tandartse kan in die middel van die nag daardie "vriend" wees wat jy heimlik wens jy het naby aan jou gehad - enigiemand wat al ooit in die nag of oor 'n langnaweek met tandpyn gesukkel het, sal hiervan kan getuig.

In ons jongste aflewering van Rustenburg Herald se "Raak die 'klits' kwyt" (kook) - het ons die voorreg gehad om saam met sekerlik Rustenburg se bekendste tandarts- en kunstenaarsegpaar, drr Hennie en Mollie de Bruin (Moolman) 'n vuurtjie aan te pak en 'n goed-voorbereide "gekultiveerde" koedoerugstring (fillet) te braai.

Read more …KOEDOEFILLET WAARAAN JY NIE LANGTAND EET NIE...

Ja, ons moet bieg, daar was lanklaas 'n winter waarin ons so gelukkig was dat ons omtrent (minstens!) een keer per week vir 'n wildshappie so uit die hartjie van die jagveld kon aansit. Ander jare was ons maar te gelukkig as ons een of twee keer in die jagseisoen 'n stukkie wildsvleis kon geniet en meestal was ons trouens heel tevrede as die enigste wildbederfie in die vorm van 'n stukkie biltong was. Maar ja, ons is dankbaar vir hierdie wonderlike reeks kosmaak-artikels van ons waarin ons dikwels aan disse en smake voorgestel word waarmee ons nog nie noodwendig kennis gemaak het nie. 'n Mens is nooit te oud of te jonk om te leer nie.

Van jonk gepraat - 'n mens hoor al te dikwels mense wat ietwat negatief oor die jonger generasie of die nuwe geslag is. Hoewel daar in baie gevalle seker maar rede vir kommer is, is die kommer meestal ongegrond - ons was mos maar almal jonk. In hierdie week se kook raak ons opgewonde oor 'n klompie jonggetroue vroue se kosmaakvermoëns. Ons het gedink dit is 'n goeie plan as die finaliste van vanjaar se Mev Rustenburg-kompetisie vir ons wys wat hulle in die kombuis doen om hul mans se magies vol te hou... Onder leiding van een of twee staatsmakers in die groep - sit ons vandeesweek aan vir 'n rooibokpastei so uit die boonste rakke. 'n Mens is eintlik half verbaas om te sien hoe maklik dit is om 'n volwaardige spogpastei te maak.

Oor 'n week of wat sal ons vir 'n tweede ronde met die ander helfte finaliste van vanjaar se Mev Rustenburg-finaliste in die kombuis kuier. So hier gaan ons...

Die dames wat ons vandeeweek bederf, is Atalia Badenhorst, Gloria Nkwe, Karen Graham, Bianka Snyman, Jamie Steyn en Agatha Breytenbach. Die Rooibokpastei is 'n familieresep van Atalia - familie van haar het 'n stukkie grond in Hartbeesfontein se wêreld so Atalia is deeglik ingelig oor wat om met 'n lekker stukkies rooibokvleis te doen. Die klompie mevvroue doen dit so:

Read more …MEV RUSTENBURG-FINALISTE BAK ROOIBOKPASTEI

In Suid-Afrika en sy talryke tradisies is dit nou maar eenmaal so dat ‘n wildvleisie vir die pot geen onbekende gesig op ons etenstafels is nie.
As jy boonop een van talle jaggeesdrigtiges was wat die afgelope winter in die jagveld kon deuring, is jy waarskynlik een van talle mense wat met bykans ‘n hele resepteboek met wildvleisresepte kan spog.
Daar is allerlei maniere en metodes wat ‘n mens kan gebruik om die “wild” uit jou bok te haal en ‘n absoluut heerlike liplekkergereg te verseker.

Die wildvleisresep wat ons vandeesweek vir ons lesers opdis, kom van me Reinette Smith, ‘n dame wat goed met die plaaslewe vertroud is en jou dadelik kan sê hoe jy ‘n beskeie stukkie wildvleis in die pot kan voorberei.
Jy doen dit so:

Read more …‘N WILDSVLEISIE VIR DIE POT

Oor die afgelope klompie weke reeds kook Rustenburg Herald se kookspannetjie elke week wild - ons bedoel - ons maak kos met wildsvleis natuurlik... In hierdie paar wekies het ons met bykans ontnugtering net weer eens besef dat wildsvleis regtig heerlike maaltye is wanneer dit reg voorberei en aangebied word - boonop is dit uiters gesond want dit bevat veel minder vet as "gewone" vleis en as jy 'n goeie verstandhouding met jou slagter het, gaan jy ook baie minder vir jou happie wildvleis betaal.

Maar die "lekker" kan nie oorbeklemtoon word nie. Daar is relatief min geregte so smaaklik soos regte, egte wildspastei en as jy al 'n paar geheimpies met jou speserye en sousies ontdek het, is daar letterlik niks wat jou kan verhoed om 'n absolute meesterstuk voor te sit nie.

Ons het verlede week by die eerste ses finaliste van die 2015 finaliste in die Mev Rustenburg-kompetisie aangesit en lekker gesmul. Vandeesweek is dit die beurt van die tweede groepie finaliste - en ons was gelukkig om nie teenwoordig te wees toe die ses dames sake moes uitbaklei om te besluit wie se tradisionele wildsresep vandeesweek opgedien gaan word nie. Nee, ons speel sommer - daar was darem eenstemmigheid onder die dames toe daar besluit is dat die resep van Rina Olwage se ouma vir hierdie uitgawe die kersie op die spreekwoordelike koek gaan wees.

So, meneer, mevrou en kroos - skuif nader, trek die voorskote aan en maak die kas met die bestanddele oop. Vandeesweek eet ons "Ouma Ollie se Wildsvleispastei".

Terloops - soos uit die foto's duidelik is, was daar 'n lekker goeie bottel rooiwyn byderhand en dié klompie finaliste het behoorlik gebak en gebrou. Die groepie op die foto's is Elizabeth Motsi - van die Rustenburgse Munisipaliteit, Mmakwena Mothoagae, Lisa Rossouw, Nanette Robinson, Portia Baloyi en Rina Olwage.

Read more …OUMA OLLIE SE WILDSPASTEI

Ja, dis winter, dis jagtyd en die tyd van die jaar vir kampvuurkuiers, biltong, wildspastei, koedoe-steak oor 'n laatnagvuur, 'n wildspotjie of wat ook al in jou familie, vriendekring of jaggeselskap die manne van die bokke onderskei. In 'n splinternuwe, hoewel waarskynlik korterige reeks oor wildskos, wildsresepte, wildsvleisgeheime of sommer net eenvoudige bederfies skop ons vandeesweek af met Martiens de Jager (Jnr) en kollega - Willie van der Bergh van Hyper Slaghuis wat vir ons wys hoe om blouwildebees-steak (biefstuk) en 'n al te lekker wildspastei te maak. Ons kan seker begin met Stap 1: "Kry jou geweer" maar ons vertrou dat ervare jagters darem al by hierdie stap verby is. Dus begin ons soos gewoonlik in die kombuis...

Read more …SÓ MAAK MENS ‘N WILDSPASTEI

Ai, wat is nou lekkerder as die bosveld se koue wintersaande om die braaivleisvuur met laataandstories en plek-plek skaterlag wat so tonekrul-lekker is dat 'n mens lank na inkruiptyd nog met 'n glimlag op jou koue wange wakker lê? Ja, die jagveld en mense se gelatenheid om die braaivuur het altyd sy bekoring - waar 'n mens ook al so gelukkig is om 'n jagvakansie te geniet... Maar vir baie van ons is dit nie so eenvoudig om die roer, die warmgoed, stewels en die bakkie te pak en jagplaas toe weg te breek nie. Deesdae is die huishoudelike begroting 'n faktor waarmee daar rekening gehou moet word en daarom dat diegene van ons met volbloed-jagters in die familie maar al te dankbaar is wanneer neef, oom of tante met 'n stewige pakkie wildsvleis (of twee) teen die voordeur aanklop.

Nouja, 'n pakkie vleis op sy tyd het ook sy voordele en vir mense wat nie te handig met die slagtersmes is nie, is iets soos wildswors stop dalk die naaste wat hulle ooit aan die jagplaasondervinding sal kom...

Ons weet daar is baie gelukkige mense wat hierdie winter die jagveld gaan opsoek - ons sal nog vir die volgende 'n maand of twee oor heerlike wildsresepte gesels. Vir die ander wat dalk darem nog 'n stukkie wild in die vrieskas het, spog ons vandeesweek met 'n al te lekker wild-boereworsresep waarmee jy jou vriendekring by die volgende braai kan beïndruk.
Madelein Cloete van Rustenburg se Professional Cooking Academy en haar regterhand, Lizelle Hattingh van Jakkalsdrift-slaghuis ('n privaatslaghuis wat wildvleis en karkasse vir letterlik dosyne jagters verwerk), het vir ons hierdie maklike en heerlike worsresep saamgestel.

Read more …VENISON RECIPE: KOEDOEWORS IS KONING!